Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG - 27 JULIE 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie - en vorige bulletins - kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

INTERNASIONALE JD-BYEENKOMS WORD IN SUID-AFRIKA GEHOU

INTEGNET OP 17 AUGUSTUS MAG NIE GEMIS WORD NIE

INDIEN JY NOG NIE JOU LEDEGELDE BETAAL HET NIE, DOEN DIT NOU OM VIR KORTING TE KWALIFISEER.

’N PAAR GROOT PRYSE VIR DIE RTA OP 13 SEPTEMBER BESKIKBAAR

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

INTERNASIONALE JD-BYEENKOMS WORD IN SUID-AFRIKA GEHOU

’n Internasionale JD-byeenkoms word gedurende Oktober 2008 in Suid-Afrika gehou wanneer JD’s en hulle metgeselle vanaf Japan, Korea, Duitsland, Swede, Noorweë, Kanada, Australië en Frankryk sal aankom. Die toer begin op 3 Oktober 2008 by die Lesedi-kultuurdorp by die Wieg van die Mens. Daarvandaan sal hulle Pilansberg Nasionalepark besoek en op 6 Oktober na Durban en Kaapstad reis. Janet Musto, ZS5JAN, en Vee Antal, ZS6ZEN, is by die Internasionale JD-byeenkoms wat verlede jaar in Indië gehou is, aangewys as organiseerders van die Internasionale JD-byeenkoms Suid-Afrika 2008.

Plaaslike radioamateurs word uitgenooi om aan te sluit by die internasionale groep tydens hul toer van Suid-Afrika. Daar is ’n galadinee by Lesedi op 4 Oktober. In Durban sal die groep op 12 Oktober die Barnyard-teater in Gateway bywoon om die Dancing Queen-vertoning te geniet en op 17 Oktober in Kaapstad kan by hulle aangesluit word vir ’n dinee in die Breakwater Lodge.

Vir besonderhede en om te bespreek vir die Johannesburgse en Kaapstadse geleenthede, kontak gerus vir Vee Antal per faks by 088 011 675 2793 en vir die Durbanse geleentheid, vir Janet op 082 321 1158.

INTEGNET OP 17 AUGUSTUS MAG NIE GEMIS WORD NIE

Die volgende Integnet sal op Sondag 17 Augustus gehou word en is getiteld “When will ET be calling home?” Prof. Paul Shuch, President van die Search for Extra-Terrestrial Intelligence oftewel die SETI-liga, is die gasspreker. Hy sal kyk na die Soeke na Buiteaardse Intelligensie met die fokus op hoe radioamateurs en kortgolfluisteraars kan deelneem. Hy is ’n uiters bekwame spreker en sal die bespreking gedurende die aand goed aan die gang hou.

Klubs word aangemoedig om reeds vroeg ’n telekonferensieskakel te bespreek en, indien hulle nog nie tevore by die netwerk aangesluit het nie, om ’n poging aan te wend om dit hierdie keer te doen en hul lede te laat deel in ’n opwindende Sondagaand. Integnet begin om 19:30. Om ’n skakel te bespreek, stuur ’n e-pos aan armi@sarl.org.za.

INDIEN JY NOG NIE JOU LEDEGELDE BETAAL HET NIE, DOEN DIT NOU OM VIR KORTING TE KWALIFISEER.

Indien jy nog nie jou ledegeld aan die SARL betaal het nie, wil ons jou sterk aanmoedig om dit nou te doen en die vroeëbetalingskorting te geniet. Vanaf 1 September is die volle lidmaatskapfooi vir 2008/2009 betaalbaar. Afslagledegelde is beskikbaar vir lede en senior lede sowel as geaffilieerde klubs. Die afslagfooi vir lede en geaffilieerde klubs is R308 en vir senior lede R184. As jy nie jou faktuur kan kry nie, bel vir Vee by 011 675 2393 vir besonderhede. LET WEL dat kantoorure vir die publiek van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 13:00 is.

’N PAAR GROOT PRYSE VIR DIE RTA OP 13 SEPTEMBER BESKIKBAAR

Indien jy nog nie 13 September in jou dagboek gemerk het nie, doen dit nou voor jy verder na SARL-NUUS luister. Die RTA in Gauteng sal op Saterdag 13 September 2008 by die Nasionale Amateurradiosentrum te Radiokop, Roodepoort gehou word.

’n Opwindende program is gereël en besonderhede sal eersdaags gepubliseer word. Die bywoningspryse is ewe opwindend. RS-COMPONENTS het ’n ultramoderne soldeerstel geskenk en COMTEST ’n Fluke-multimeter, en daar is nog meer pryse in die pyplyn. Dit is slegs die begin. Besoek die webblaaie gereeld en bly ingeskakel by SARL-nuus.

OKOSA GEVRA OM UITSTAANDE REGULASIESAKE TE BESPOEDIG

Gedurende die afgelope week het die SARL verskeie besprekings, op die hoogste vlak, met OKOSA gehad om sekere uitstaande regulasiesake te bespoedig. Sommige van hierdie sake sluit in die regstelling van die toewysing van ZR-lisensiehouers se toedeling op die 20 meterband, die uitbreiding van die 40 meterbandtoedelings en die totstandkoming van ’n vaste skakelkomitee tussen die SARL en OKOSA.

IS JY ’N BHF/UHF-KOMPETISIE-ENTOESIAS?

Die SARL BHF/UHF-komitee soek na iemand wat ondervinding het van BHF/UHF-kompetisies om by die komitee aan te sluit. “Ons sal binnekort na die reëls vir die 2009 BHF/UHF-kompetisies begin kyk en sal graag ’n kenner hê om by ons aan te sluit,” het Nico van Tonder, ZS6AQ, aan SARL-nuus gesê. Insette deur diegene wat aan kompetisies deelneem, sal ook verwelkom word. Stuur vir Nico ’n e-pos na nico@admin.co.za of bel hom op 082 326 9345.

KOMPETISIENUUS

Die Boland ARK 40 Meterkompetisie is vanmiddag op die lug vanaf 15:00 tot 18:00 SAT. Jou roepsein, 'n RS verslag en jou poskode word uitgeruil. Die Boland ARK vra dat logstate aan BARK, Posbus 273, Strand, 7139 gestuur word en nie na die adres in die Kompetisieboek nie. Letsplayradio het 'n VX3 handdraagbare radio geborg, alle logs met 20 of meer kontakte sal in aanmerking kom vir die gelukkige trekking.

Op Sondag 3 Augustus word die SARL HF-Foonkompetisie gehou vanaf 15:00 tot 18:30 SAT met werking op 20, 40 en 80 meter. ‘n RS-verslag en 'n reeksnommer word uitgeruil.

Die SARL 40 Meter Mobiele en "Shack in a Sack" Kompetisie is op Sondag 10 Augustus op die lug.

KLUBNUUS

Nuwe Klubkomitee.

Die Midlands Amateurradioklub het op Saterdag 19 Julie hul AJV gehou en die volgende lede is tot die komitee verkies:

Voorsitter en nuusbriefredakteur Wessel du Preez, ZS5BLY;
Ondervoorsitter Robin Seal, ZS5MRS;
Sekretaris/tesourier Mike Boast, ZS5BGV;
Tegniese adviseur Mickey Esterhuysen, ZS5QB;
Herhalers en Digitaal Shaun Rudling, ZR5S;
Webmeester Mike Lauterbach, ZR5ML.

Die klub wens sy nuwe bestuur voorspoed toe vir die jaar wat voorlê en bedank die uittredendes vir hulle harde werk.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik noordwestelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m-openinge vanaf 16:00 SAT na Indië. Daar is moontlike flou 40 en 80 m-openinge na Nieu-Seeland om 20:00. Andersins gaan kontakte met Australië en Nieu-Seeland baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees, en dit sluit vanmiddag se wedstryd in. 80 m behoort gedurende die oggende en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.

Saans is 80 m die beste keuse, veral noudat die meeste donderstorms en statiese toestande agter die rug is. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees. Dit is nou die ideale tyd om 'n plan vir 'n 160 m-antenna te maak as jy nie reeds een op het nie en die opwinding en nukke van topband wil beleef.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag 27 Julie –Boland 40 m-kompetisie;
3 Augustus - SARL HF-Foonkompetisie;
10 Augustus - SARL 40 Meter Mobiele en "Shack in a Sack" Kompetisie;
17 Augustus – INTEGNET;
31 Augustus – Laaste dag vir betaling van ledegelde teen korting;
13 September – RTA Gauteng by NAR;
3 Oktober – JD-toer van SA begin.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radio-amateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003